Ek skryf uit Riva del Garda. Dit beteken ons het die eindpunt van die Craft Bike Transalp 2013 bereik. Wat 'n belewenis. Hier word partytjie op groot skaal gehou. Hier is een van daardie regte kwaad vir alles Duitse " rock bands" en hulle speel laat die biesies bewe. Die mense sing en partytjie saam. Dit was 'n groot emosionele ervaring vir baie om vandag hier langs die meer na 8 dae en 675 km en 20000m se op en af aan te kom. Dit word nou omgesit in 'n groot partytjie.
Ons het soos baie ander, net so in die meer gaan spring toe ons hier aankom. Riva del Garda is 'n asemrowende vakansiemekka. Google dit gerus vir prentjies.
Het vanaand ook lekker gesels met die Exxaro ontwikkelingspan van Suid-Afrika. Oulike jong manne vir wie dit net so groot belewenis was.
Wat se ek oor die laaste twee dae se ry?
Die voorlaaste skof van 118 km - die langste- was maar weer rof. Die opdraandes hou nie op nie. Klim maklik 15 na 20 km ononderbroke. Vandag weer vanaf km 3 tot 18 km net een lang klim met hellings van soms 17 grade en meer. Rinus het regtig elke dag sterker geword teen die opdraendes. Net hy weet hoe kry hy dit reg. Vandag het ek hom gespot dat hy so sterk ry omdat hy vanaand na Liezl in Parys gevlieg het.
Ek het self hier aangekom "well rested" na 'n besering of twee en ek het soms "well wasted" gevoel. Jy moet fiks wees om oor hierdie berge te kom. Gelukkig was ons nie hier om te wen nie en die kameraderie met ander spanne wat teen ons pas ry, was elke dag 'n hoogtepunt al kon ons soms nie te veel kommunikeer nie. Ons kon gelukkig elke dag lekker sterk en sonder probleme eindig.
Tegnies het die fietse uitstekend gehou. Ons moes remblokkies en een speek vervang en 'n agterste derailleur reguit buig. Dis al. Dit word wel duidelik dat ook hier die 26ers binnekort sal uitsterf. Die soort paaie - veral die rowwe afdraendes - is net meer geskik vir die groot wiele.
Dit was werklik 'n voorreg om saam met Rinus deel te kon neem aan die Transalp. Dankie aan almal wat help moontlik maak het. Dankie aan die Here wat hierdie mooi wereld gemaak het vir ons om te kan geniet. En op 'n fiets kom jy net soveel nader daaraan.
Laaste woord: Ek is bevrees die bultjies van die Kaap, gaan nie gou weer enige vres by ons inboesem nie.
Nag ou Grote
No comments:
Post a Comment