Thursday, July 25, 2013

Mooier as ooit

Hierdie is so 'n naskriffie vir enigeen wat nuuskierig genoeg is om iets te weet van my post Transalp fietsry belewenis in Oostenryk. 

Die Grossgloknerstrasse
Ek het lankal die hemp maar moes dit nog kom verdien. Die Grossgloknerstrasse is die hoogste voertuigpas in Oostenryk 'n 'n ikoon vir plaaslike fiets- en motorfietsryers. Hulle kom van oral oor. Fietsyers kan jouself inklok by die begin en eindpunt en daar is ook jaarliks 'n groot fietswedren hier om die Koning van die Grossglokner te kroon. Van waar  ek in Zell am See begin het is dit 30 km tot bo. Die laaste 20 km kronkel teen 12º die berg op. Maar die steil bult is nie waaroor dit eintlik gaan nie. Dit kan jy op meer plekke kry en daar is steiler ook. Met die Transalp het ons bv teen 17º vir lang tye geklim. Die Grossgloknerstrasse se aantrekkingskrag lê (let op ek het vir die eerste keer ontdek hoe om 'n kappie te tik) in sy absolute skoonheid. Dit is mooi. Ek heg 'n foto aan, maar dit kan die pragtige omgewing moeilik vasvat.  Groen berghange, sneeugletsers en lappe sneeu in die middel van die somer, vorm 'n prentjiemooi lappieskombers. Ek moet bysê dit was die mooiste sonskyndag. Daarvan is hier minder as 30 dae in 'n jaar en vir 6 maande van die jaar is die pas gesluit en toe onder meer as 10 meter se sneeu. Ek was bevoorreg en geen wonder daar was 'n groot klomp fietsryers wat die dag daar uit is nie.
Bo kon ek dit vier saam met my Oostenrykse buurman Hartmut Henkel. Hy het 30 jaar terug 'n restaurant by die hoogste punt van die pad gebou. Hier werk hulle 6 maande van die jaar en wanneer die pas toe maak, skuif hulle Somerset-Wes toe.
Tradisionele geregte spesiaal vir fietsryers word bedien en saam met hulle heerlike groot biere het ek die afdraande terug rus-rus en  heelwat versigtiger as my gewoonte aangepak.
Ek wou graag die Grossgloknerstrasse ry en my bure se plek sien. Ek sou nooit kon droom dat dit so 'n wonderlike ervaring sou wees nie.

No comments:

Post a Comment