In Pretoria het ons by die kerk 'n Aksie Dieper Delf gehad vir die wat meer wou leer oor Aktuele kerksake. Vandag het ek Dieper moes Delf om meer te leer van die Alpe en sy heuweltjies. Dit was 'n moeilike dag. Na 'n stewige klim en afdraende wat die remme wou laat op pak, tref ons op 60 km die moeder van opdraendes. Vir langer as twee uur klim ons genadeloos nadat ons op 40 km laas water gesien het. Selfs die uitsigte beindruk later nie meer nie. Uiteindelik bo, stamp die kilometers steil afdraende op 'n rowwe bergpaadjie die laaste stukkie glimlag uit jou uit. Voor dit te erg klink, ons is almal vrywillig hier en dit bly 'n voorreg om aan die Transalp deel te neem. Wil maar net se, dit is nie 'n piekniek of 'n joyride nie.
Hierdie is 'n ernstige uitdaging vir bergfietsryers. Dis ook nie eintlik die plek om te probeer fiks word nie. Hoewel Rinus dit baie goed reggekry het. Hy ry soos 'n masjien. Dalk is ek ook more daar.
Vanaand is ons in nog 'n mooi Italiaans dorpie en ons het onsself bederf met regte Italiaanse roomys. Dis nou nadat ons eers remblokkies vervang het. Te verstane as jy kyk na die opdraendes. John Dalton, ook van Somerset-Wes, ry saam met Hanri, sy vrou. Hy het gehelp om 'n paar dinge aan my fiets reg te kry, maar ek sal more moet aanpak minus een speek. Het die hulp van die bande ouens nodig om dit te vervang en dit sal eers more aand kan gebeur. Ons hou maar duim vas.
Wifi is hier skaars. En hierdie blog sal seker eers more-aand gepubliseer kan word. Teen daardie tyd is ons DV al klaar met die voorlaaste skof.
Nou eers weer probeer slaap in 'n saal tussen snorkende, vroetelende en nog ander geluidmakende fietsryers vanoor die wereld. O ja. Niemand kon die saal se ligte afkry nie. Toe sit hulle maar die hoofskakelaar af. Sou kon werk as dit nie was vir die noodligte wat outomaties aankom nie.
Laaste opmerking. Ek het nie geweet die Italianers gebruik squat toilette nie. Laaste twee sale was daarmee toegerus. Baai.
Friday, July 19, 2013
Dieper Delf
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment