Thursday, July 25, 2013

Oostenryk deel 2

Ek het 2 dae toegelaat om die Grossglokner te ry vir in geval slegte weer 'n probleem sou wees. Die eerste dag was perfek, net so dag twee.
Die Krimler waterval is die hoogste in Europa en regtig in 'n pragtige omgewing.  Geen wonder dit is 'n baie gewilde plek onder toeriste nie.
Dit is so 70 km vanaf Zell am See al langs die rivier in die vallei op.
Hier is die verrassing. Al die pad tot daar is 'n geteerde fietspad. Dit loop langs die rivier en dan word jy elke keer eers deur die dorpies aan die hange van die vallei herlei. Hulle noem dit die tourradweg en dit word duidelik aangewys en baie goed gebruik.  Deur langafstand fietsreisigers,  deur gesinne wat 'n entjie gaan ry, en deur fietsryers wat oefen.
Moet sê my bene het nie heeltemaal gereken op 'n vinnige 140 km nie maar die rit was die moeite werd. Nie net die mooi waterval nie, maar ook die mooi plattelandse dorpies nooit meer as 10 km uit mekaar nie.

Gisteraand gesien hoe die Oostenrykers op Woensdagaande almal in die dorpskern kuier.  Heerlik gesellig en almal is daar. Ek het selfs die plaaslike priester ontmoet. Hier is meeste mense Katoliek en meeste gaan ook nooit kerk toe nie. Het omie ontmoet, Hartmut se swaer, wat in gastehuis agter Helderberg kerk tuisgegaan het. Hy het met groot oorgawe verduidelik hoe hy gesien het hoe die mense Sondag kerk toe stroom. Die priester was meer jaloers oor ek mag trou as oor die mense.

Daarmee is die fietsavontuur afgesluit. Rinus stuur groete uit die suide van Italië en ek en fietsie (Wetter) is met die trein op pad na München.  Daar moet ek 'n boks vir hom kry en op vliegtuig kom.
Dankie dat ek jou kon verveel met my stories.
Laaste woord - jammer vir al die taal-, tik-, en spelfoute wat jy moes verduur. Al verskoning is 'n dik vinger op klein touch screen van foon en dikwels ook 'n moeë kop en laataand pogings.

Go ride a bike (as die son skyn)

Sela

Mooier as ooit

Hierdie is so 'n naskriffie vir enigeen wat nuuskierig genoeg is om iets te weet van my post Transalp fietsry belewenis in Oostenryk. 

Die Grossgloknerstrasse
Ek het lankal die hemp maar moes dit nog kom verdien. Die Grossgloknerstrasse is die hoogste voertuigpas in Oostenryk 'n 'n ikoon vir plaaslike fiets- en motorfietsryers. Hulle kom van oral oor. Fietsyers kan jouself inklok by die begin en eindpunt en daar is ook jaarliks 'n groot fietswedren hier om die Koning van die Grossglokner te kroon. Van waar  ek in Zell am See begin het is dit 30 km tot bo. Die laaste 20 km kronkel teen 12º die berg op. Maar die steil bult is nie waaroor dit eintlik gaan nie. Dit kan jy op meer plekke kry en daar is steiler ook. Met die Transalp het ons bv teen 17º vir lang tye geklim. Die Grossgloknerstrasse se aantrekkingskrag lê (let op ek het vir die eerste keer ontdek hoe om 'n kappie te tik) in sy absolute skoonheid. Dit is mooi. Ek heg 'n foto aan, maar dit kan die pragtige omgewing moeilik vasvat.  Groen berghange, sneeugletsers en lappe sneeu in die middel van die somer, vorm 'n prentjiemooi lappieskombers. Ek moet bysê dit was die mooiste sonskyndag. Daarvan is hier minder as 30 dae in 'n jaar en vir 6 maande van die jaar is die pas gesluit en toe onder meer as 10 meter se sneeu. Ek was bevoorreg en geen wonder daar was 'n groot klomp fietsryers wat die dag daar uit is nie.
Bo kon ek dit vier saam met my Oostenrykse buurman Hartmut Henkel. Hy het 30 jaar terug 'n restaurant by die hoogste punt van die pad gebou. Hier werk hulle 6 maande van die jaar en wanneer die pas toe maak, skuif hulle Somerset-Wes toe.
Tradisionele geregte spesiaal vir fietsryers word bedien en saam met hulle heerlike groot biere het ek die afdraande terug rus-rus en  heelwat versigtiger as my gewoonte aangepak.
Ek wou graag die Grossgloknerstrasse ry en my bure se plek sien. Ek sou nooit kon droom dat dit so 'n wonderlike ervaring sou wees nie.

Saturday, July 20, 2013

Toekomstige sterre

Toekomstige sterre
Party blom net bietjie later. Saam met Exxaro se manne.

Moeg en tevrede

By die eindpunt by Riva aangekom met die SA vlag. Moeg maar baie tevrede.

Transalp se ooms

Moet jou nie laat afskrik deur die grys stoppelbaarde nie. Dis deel van ons image en hou die lastige Italiaanse meisies op 'n afstand.

Cappucino voor die skof begin

Na die tyd is ons te moeg om foto te neem

On top of the world

Transalp - 'n belewenis

Ek skryf uit Riva del Garda. Dit beteken ons het die eindpunt van die Craft Bike Transalp 2013 bereik.  Wat 'n belewenis. Hier word partytjie op groot skaal gehou. Hier is een van daardie regte kwaad vir alles Duitse " rock bands" en hulle speel laat die biesies bewe. Die mense sing en partytjie saam. Dit was 'n groot emosionele ervaring vir baie om vandag hier langs die meer na 8 dae en 675 km en 20000m se op en af aan te kom. Dit word nou omgesit in 'n groot partytjie.
Ons het soos baie ander, net so in die meer gaan spring toe ons hier aankom. Riva del Garda is 'n asemrowende  vakansiemekka. Google dit gerus vir prentjies.

Het vanaand ook lekker gesels met die Exxaro ontwikkelingspan van Suid-Afrika. Oulike jong manne vir wie dit net so groot belewenis was.

Wat se ek oor die laaste twee dae se ry?
Die voorlaaste skof van 118 km - die langste- was maar weer rof. Die opdraandes hou nie op nie. Klim maklik 15 na 20 km ononderbroke. Vandag weer vanaf km 3 tot 18 km net een lang klim met hellings van soms 17 grade en meer.   Rinus het regtig elke dag sterker geword teen die opdraendes.  Net hy weet hoe kry hy dit reg. Vandag het ek hom gespot dat hy so sterk ry omdat hy vanaand na Liezl in Parys gevlieg het.
Ek het self hier aangekom "well rested" na 'n besering of twee en ek het soms "well wasted" gevoel. Jy moet fiks wees om oor hierdie berge te kom.  Gelukkig was ons nie hier om te wen nie  en die kameraderie met ander spanne wat teen ons pas ry, was elke dag  'n hoogtepunt al kon ons soms nie te veel kommunikeer nie. Ons kon gelukkig elke dag lekker sterk en sonder probleme eindig.
Tegnies het die fietse uitstekend gehou. Ons moes remblokkies en een speek vervang en 'n agterste derailleur reguit  buig. Dis al. Dit word wel duidelik dat ook hier die 26ers binnekort sal uitsterf. Die soort paaie - veral die rowwe afdraendes - is net meer geskik vir die groot wiele.

Dit was werklik 'n voorreg om saam met Rinus deel te kon neem aan die Transalp. Dankie aan almal wat help moontlik maak het. Dankie aan die Here wat hierdie mooi wereld gemaak het vir ons om te kan geniet. En op 'n fiets kom jy net soveel nader daaraan.

Laaste woord: Ek is bevrees die bultjies van die Kaap, gaan nie gou weer enige vres by ons inboesem nie.

Nag ou Grote

Friday, July 19, 2013

Dieper Delf

In Pretoria het ons by die kerk 'n Aksie Dieper Delf gehad vir die wat meer wou leer oor Aktuele kerksake. Vandag het ek  Dieper moes Delf om meer te leer van die Alpe en sy heuweltjies. Dit was 'n moeilike dag. Na 'n stewige klim en afdraende wat die remme wou laat op pak, tref ons op 60 km die moeder van opdraendes. Vir langer as twee uur klim ons genadeloos nadat ons op 40 km laas water gesien het. Selfs die uitsigte beindruk later nie meer nie. Uiteindelik bo, stamp die kilometers steil afdraende op 'n rowwe bergpaadjie die laaste stukkie glimlag uit jou uit. Voor dit te erg klink, ons is almal vrywillig hier en dit bly 'n voorreg om aan die Transalp deel te neem. Wil maar net se, dit is nie 'n piekniek of 'n joyride nie.
Hierdie is 'n ernstige uitdaging vir bergfietsryers. Dis ook nie eintlik die plek om te probeer fiks word nie. Hoewel Rinus dit baie goed reggekry het. Hy ry soos 'n masjien.  Dalk is ek ook more daar.
Vanaand is ons in nog 'n mooi Italiaans dorpie en ons het onsself bederf met regte Italiaanse roomys. Dis nou nadat ons eers remblokkies vervang het. Te verstane as jy kyk na die opdraendes. John Dalton, ook van Somerset-Wes, ry saam met Hanri, sy vrou. Hy het gehelp om 'n paar dinge aan  my fiets reg te kry, maar ek sal more moet aanpak minus een speek. Het die hulp van die bande ouens nodig om dit te vervang en dit sal eers more aand kan gebeur. Ons hou maar duim vas.
Wifi is hier skaars. En hierdie blog sal seker eers more-aand gepubliseer kan word. Teen daardie tyd is ons DV al klaar met die voorlaaste skof.
Nou eers weer probeer slaap in 'n saal tussen snorkende, vroetelende en nog ander geluidmakende fietsryers vanoor die wereld. O ja. Niemand kon die saal se ligte afkry nie. Toe sit hulle maar die hoofskakelaar af. Sou kon werk as dit nie was vir die noodligte wat outomaties aankom nie.
Laaste opmerking. Ek het nie geweet die Italianers gebruik squat toilette nie. Laaste twee sale was daarmee toegerus. Baai.

Wednesday, July 17, 2013

Blaaskans

Vandag was daar genoeg rede om te stop. Veral as dit so mooi lyk. Dit het warm en met die gebruiklike opdraendes begin. En toe kom die reen. Nat en koud is nie die woord nie.  Veral die afdraendes word dan 'n uitdaging. Maar ons kon eindig met 'n smile- wel koud en nat maar niks wat 'n stort nie kon regruk nie.
Vir die wat belangstel, Rinus se glimlag op die foto vertel van 'n man wat na 5 skofte nou topvorm begin bereik.

Nat en vuil en gelukkig

Deurnat maar nog 'n skof van betekenis agter die rug.

Tuesday, July 16, 2013

Steeds die hoogtes in

Verslae oor die skofte van die Transalp klink my kan nogal eentonig raak. Hoekom? Want elkeen sal min of meer begin en eindig met ons het geklim en geklim en toe ons nie meer kon ry nie toe klim ons af en stoot. En gelukkig is die natuurskoon so asemrowend, dat as jy te moeg is om verder te ry, jy net se jy stop om die mooi te bewonder. Sal dit genoeg wees as ek se dat ons vandag heelwat fotos onderweg geneem het.  Vandag se skof vergelyk wat intensiteit betref beslis baie goed met 'n Cape Epic skof-vir die wat daaroor sou wonder.  Maar ons veg vol moed voort. Vandag het niks gebreek of niemand geval nie. Daar is ongelukkig wel 'n ou opdraandetjie van seker 2 uur plus waaroor ek dalk nog in die nagte sal wakkerskrik.
Van veg gepraat. My gesig lyk uiteindelik nie meer soos 'n voosgeslaande bokser nie. Die swelling het heeltemal gesak, maar dit was helaas 'n redelike sight for sore eyes. Dit was so geswel toe ek vanmiddag die dokter gaan bedank, het hy my aanvanklik nie herken nie. Gelukkig het ek nie eintlik veel in die spieel gekyk nie wn Rinus sien in sy werk baie erger gesigte.
Slaaptyd hier. Ons slaap in skoolklaskamer in die pragtige dorp Alleghe. Google dit gerus. More wors ons eerste reen voorspel. Dit gaan 'n ding afgee teen die hellings.  As ons weer wifi opspoor, vertel ons weer

Inglish?

Die fietsry gemeenskap in Europa is nie verskriklik Engels nie. Dit is nou om dit sagkens te stel. Hulle is Duits en Frans en Italiaans en Hollands ens. Of dit is minstens die prentjie wat die Transalp by mens laat. Hier word Engels ook meestel uit selfverdediging gepraat. Dit is eintlik verfrissend anders vir ons wat nog met die British Empire se gevolge saamleef.
Ongelukkig beteken dit ook dat ons kommunikasie met ander ryers en veral die mense van die dorpies van die Duitse en Italiaanse Alpe soms baie sukkel en soms baie snaaks kan wees.
Uit die 35 lande se fietsryers is daar ook Engelsprekendes maar heel gereeld as jy langs iemand ry en vriendelik wil gesels, word jy bloot net senuweeagtig geignoreer.
Gisteraand by die pasta party- aandete deur die dorp verskaf- wou ek vriendelik by die tannie verneem of daar nie nuts of peanuts in die lasagne is nie. Volgens haar is daar toe. Die tannie het peanuts en spinach met mekaar verwar. Na sy sulke regte Popye sterk arms gewys het, het ons mekaar gevind.
Laaste iets wat opval. As dit nie was vir ons twee SA Exxaro manne nie, was hier nie 'n enkele swart fietsryer nie. Meeste ander Europese sporte is lankal nie meer leliewit nie.  Ons Exxaro manne is positiewe vriendelike jong manne en puik fietsryers.  Ek dink net die berge is vir hulle, soos vir ons vrekhoog.

Span van twee

Goeie nuus. Rinus hoef toe nie vandag weer alleen die berge te pak nie. Uiteindelik was ons 'n span van twee. Dit was ook 'n dag van betekenis. Eers omdat ons so baie geklim het. Van die wegspring net een pad en dit is boontoe. Gelukkig was die uitsigte asemrowend. Aan die een kant die groen Alpe hange met dorpies wat teen die hange vasklou. Aan die anderkant die Dolomiete. Dit is grys harde berge met sneeu kolle nog oral sigbaar.
Die dag was ook meer opwindend gemaak deur Danie se agterste derailleur - die dingetjie wat die ratte laat skuif - wat agtergekom het hy is nie harder as die klippe van die Dolomiete nie. Dit het beteken hy kon afdraendes vinnig ry en opdraendes gly die ratte net. Plan een, om afdraendes vinnig te ry het nie so goed gewerk nie. 'n Vinnige val het 'n stokkie daarvoor gesteek.
Enter Peter 'n vriendelike Duitse mederyer, ja daar is sulkes. Hy help en die derailleur word gelap. Al probleem dit neem bietjie tyd wat ons laat wonder of ons die afsnypunt betyds sou haal.  Ons moes bietjie druk maar gelukkig kon ons dit veilig maak.
Die res van die dag was nog van daardie opdraendes en gelukkig ook weer al die pad af.
Specialized se manne het fiets weer reg gekry en more takel ons weer die pad.
Laaste woord oor vandag. 57 kilometer klink kort vir 'n skof. Maar sit 3000meter se klim daarby dan weet jy hier kom moeilikheid. So leer mens hier in die Alpe.

Saturday, July 13, 2013

Hospital room with a view

Ons gaan nie meer wen nie

Dis nou amptelik -ons gaan nie meer wen nie. Nie net omdat ons nie goed genoeg is nie. Maar ook omdat een helfte van ons nooit die 1e skof begin het nie.
Stuff happens en vanoggend het dit gekom in die vorm van 'n neut iewers in die post toasties. Ongelukkig in my bord en ongelukkig is ek erg allergies vir neute. Het phenergan gespuit, ry nie verniet vir dr Rinus saam nie, en toe die 3 km na die wegspring rustig en nog vol moed gery. Daar aangekom het ons besef ek het adrenalien ook nodig. Gelukkig is daar medici aan diens. Ek kon vir hulle 'n vinnige lessie in die praktyk van anafilaktiese skok beteken. Uiteinde is, Rinus ry die eerste dag soos 'n yster en ek ry vir die tweede keer in nie te lank nie ambulans met my fietspakkie aan.
Ek spandeer die dag en aand in die Klinikum in Garmisch-Partenkirchen. Dis 'n groterige privaat Duitse hospitaal. Deur die venster sien ek die groot skijump en bobsled baan waar die Olimpiese Winterspele hier gehou is. Hier is ook goeie internet daarom tik ek so lekker met een  vinger op die foon.
Rinus is vandag en more 'n spankaptein sonder 'n troep. Transalp se mediese span het besluit ek mag eers Maandag  begin ry. Ek verstaan dat hulle nie risikos wil neem nie en aanvaar dit so. In die Epic sou ek totaal uit wees.
Hier in die hospitaal deel ek die kamer met oa 'n Duitse man wat chemo kry en siek en moedeloos is. Ons probeer gesels. Dalk moes ons paadjies kruis.
Mooi loop en trap

Suid-Afrikaanse aanslag

Jammer die laaste twee blogs het in die kuberruim verdwyn. Wifi  nie oral ewe lekker nie.
Ek som so bietjie op.
Mittenwald is 'n wonderlike mooi dorpie en hierdie week die saamtrek plek van 'n indrukwekkende klomp bergfietsryers, asook die Against all Odds span- dis  nou ons.
Ons het ook al 'n paar Suid-Afrikaners raakgeloop. Veral een met 'n lekker storie. Die storie begin met ek en Rinus wat met ons twee groot fietsbokse en bagasie op Mittenwald se stasie stop. Volgens die web is ons gastehuis net 900m van die stasie af. Iemand het vergeet om te se dit is 900m boontoe ook!  So 30 minute se stap volgens vriendelike dametjie. Wel die pakasie gaan nie in 'n taxi so ons pak die fiets bokse opmekaar en die bagasie bo-op en daar gaan ons die hoofstraat op. Nie ver gevorder nie toe stop kombi langs ons. Dis Manfred van Houtbaai. Hy  vertel toe hy ons sien hy gedink dit moet Suid-Afrikaners wees! Manfred en sy dogter het tot ons redding gekom en die aand kon ons nog lekker saam kuier. Op vliegtuig ook 3 ander SA ryers gekry en volgende dag ook die ontwikkelingspan van Exxaro se Epic wenspan wat as deel van hulle prys hier deelneem. John en Hanri Dalton ook van Somerset -Wes lyk oorgehaal en reg vir dinge.

Manfred en sy dogter het gister gery en na 'n kortpad in die berg verdwaal. Hulle was omtrent gerattle na die hulle op en af is op hellings waarteen hulle  nog nooit was nie. 
Dis nou eers genoeg.
Mooi loop of trap

Friday, July 12, 2013

Mittenwald

Mittenwald is prentjiemooi met reuse berge! Sukkel om blog aan die gang te kry, maar nou kom hy reg. Klaar geregistreer en fietse is reg. Opwinding is groot en die dorp is vol fietsers.

Op pad

Die dag is hier. Ons is op pad. Was nie maklik om alles onder 30 kg te hou nie. Ons het altwee deurgeskraap. Maar nou is dit net een pad. Kyk noord en voeter voort.  Nooit lekker om jou mense tuis te los nie. Werk bietjie deur die hartseer van afskeid. 
Min gerus die laaste paar dae. Daarvoor gaan Emirates se lang vlug gelukkig nou opmaak.

Monday, July 8, 2013

Helderberg se mooi

Soos voor die Epic vandag ons voorbereiding skemertyd afgesluit teen die Helderberg uit. Die mooiste uitsig met die sagte laaste lig van die son wat deur die mis sak.Daar die Here gedank vir die voorreg en gevra vir Sy beskerming.
Nou word die fietse geboks en die sakkies gepak. Net 30kg toegelaat fiets en toebehore ingesluit. Ons gaan lig reis.

Dag 3 - iets om oor te wonder

Skof 3 lyk veral na 'n interessante dag in die Alpe.  In net 57 kilometer klim ons 2833 meter.  Die uitdaging is die eerste 20 km van die dag. Dit is een steil klim van 1800 meter.  Dis nou 'n opdraande en 'n half.  Geen wonder die organiseerders laat 8 ure vir die agterosse ( lees nou Danie en Rinus) toe voor die afsnytyd nie.
Ek is seker as ons oor daardie bergie is, gaan min dinge ons terughou om klaar te maak 5 dae later.

Hier kom 'n ding

8 dae, 675km en 20 000m se klim.  Dit is wat vir ons voorle (jammer ek kry nie nou 'n kappie nie) in die Craft Bike Transalp Marathon.  Dit klink erg en gaan seker ook wees.  Ons het CJ Langenhoven as ons hoofafrigter aangestel  Die wyse man se raad wat ons gaan volg, is: Om swaarkry met lekkerkry klaar te kry. 
Ons doen dit mos omdat ons wil en omdat ons dink dit gaan 'n wonderlike belewenis wees.  Lekkerkry en lag sal deel moet wees van ons roetine.  Juis omdat ons nou besluit het om nie meer te gaan vir 'n wen nie. Toemaar, moenie dink ek begin hallusineer nie - ons sou nog nooit probeer wen het nie.  Maar ons is beslis van plan om die swaarkry ook te geniet.
Hier is 'n foto van ons spanbousessie nou die aand.


Wednesday, July 3, 2013

Helderberg Cycle World

Dankie aan Petie Viljoen van Helderberg Cycle World vir sy ondersteuning en raad. Ek is 'n Specialized man en dit is grootliks te danke aan Petie en sy span. Ek het die grootste respek vir Wetter. Dis  nou my Specialized Epic. Hy kan die punch vat. 

Monday, July 1, 2013

Reik na die sterre

Opgewonde oor ons nuwe pakkies en reg vir die bulte

'n Droom word waar

'n Droom word waar as ek en my fietsvennoot, Rinus Beukes, op 13 Julie in Mittenwald, Duitsland, wegspring in die Craft Bike Transalp 2013.
 Die Transalp is saam met die Cape Epic op die emmerskoplys (bucket list) van baie bergfietsryers. Agt dae deur die Alpe, met baie harde werk, maar in die mooiste omgewing.

So stel die organiseerders dit bekend:
The most spectacular mountain bike stage race in the world!
Spectacular MTB-courses, beautiful mountain-panoramas, awesome passes, famous cities hosting the stages, professional event organization and participants from about 40 countries make this event a unique experience in the mountain bike-scene. Ambitious mountain bikers will pass more than 600 kilometers and about 18.000 vertical meters. Adrenalin pure!

The Craft BIKE Transalp is and will be the most impressive event in the world of amateur mountain bike racing.

Hoe kry ons dit reg om die droom te laat waar word?
Ons spannaam is nie verniet "Against All Odds" nie.

  • Jy het 'n passievolle spanmaat nodig, gedurig op soek na nuwe uitdagings: "Enter dr Rinus Beukes!"
  • Jy het borge en ondersteuning nodig.  Danksy Rinus, word Straumann ons borg.  Wat van my fiets en sy voorbereiding?  Petie Viljoen van Helderberg Cycle World, deesdae 'n Specialized Concept Store, borg die voorbereiding van "Wetter" my Specialized Epic Comp.
  • Jy het tyd nodig om fiks genoeg te word vir eindelose opdraandes in die berge. Oeps - dalk was dit die moeilikste. Die wintersdae is kort en vol, Rinus is benewens al sy ander aktiwiteite ook nog besig met 'n MBA.  Ek val myself des dinges van die fiets af en sukkel met beserings.  Ons is beslis nie so fiks voor 2012 se Cape Epic nie, maar ons koppe is dalk sterker.  Dit sal ons moet dra as die lywe nie meer kan nie.


Die Alpe avontuur is op hande en ons gaan elke oomblik daarvan geniet.  Selfs die opdraandes en die berugte slaapgeriewe.